As God vir ons is …
 

As God vír ons is, wie kan teen ons wees?” (Rom 8:31 OAV)

Hierdie kort en bondige stelling is gevul met waarheid, waarskuwing en aansporing. Nee dit is nie ‘n drukfout nie – die stelling bevat terselfdertyd waarskuwing sowel as aanmoediging.

Die waarskuwing vind ons in die woordjie “as”. Die Engelse twee-letter woord “if”, wat in Afrikaans vertaal word as onder andere “indien, as”, kom meer as 1400 keer in die Bybel voor en is seker een van die woorde in God se Woord wat die meeste geïgnoreer word. Dit word waarskynlik geïgnoreer omdat dit so klein en oënskynlik niksseggend is. Dit blyk egter dat die invloed wat die woord op die betekenis van ‘n sin het, oorweldigend is. Dit is so betekenisvol dat die teenwoordigheid daarvan die hele betekenis van ‘n sin kan verander. Menige valse leringe en dwalinge is geformuleer deur bloot hierdie twee letters se teenwoordigheid te ignoreer.

Die gebruik van “as” in hierdie sin (wat nie in die nuwe Afrikaanse Vertaling voorkom nie, maar wat wel in al die oorspronklike manuskripte voorkom), sê vir ons dat as God nie vir ons is nie, Hy inderwaarheid teen ons is! Ja, God is teen baie mense. Hy is teen Israel in haar ongehoorsaamheid (Eseg 5:8), Hy is teen Tirus omdat hulle Israel aangeval het (Eseg 26:3), Hy is teen die herders wat hulle eie belange voor die behoeftes van die mense gestel het (Eseg 34), Hy is teen diegene wat die waarheid in hulle eie harte en gedagtes onderdruk (Rom 1:18) en bowenal is Hy teen die hoogmoediges (Jak 4:6).

Gevolglik is hierdie mense in ‘n haglike posisie aangesien God teen hulle is. Vir hulle het ons nodig om die tekswoorde om te draai: “As God teen ons is, wie kan ons help?” Dit is inderdaad verskriklik om in die hande van die lewende God te val (Heb 10:31) want as God jou vyand is, is daar niemand wat jou kan help nie. Tog is daar baie mense wat dink dat God hulle vriend is, nieteenstaande die feit dat hulle arrogant en ongehoorsaam is of herders is wat die kudde mishandel. Gevolglik bied hierdie teks vir sulke mense geen troos en is dit eerder ‘n vreeslike teregwysing.

Die tweede woord is “God”.  “As God vír ons is…” Dit is asemrowend om te dink dat God werklik aan ons kant kan wees. Dit is een ding om aan die Here se kant te wees. Dit is egter iets heeltemal anders wanneer die Koning van die Heelal, die Almagtige, die Magtigste God aan ons kant is. Niks en niemand kan teen Hom staande bly nie en as Hy vir ons is kan niks teen ons staan nie! Is dit nie wonderlik nie! Iemand het eenkeer gesê dat ek nie in absolute terme moet praat nie, maar hierdie is absolute terme. God is óf vir ons, óf Hy is teen ons. Ons is óf aan dieselfde kant óf ons is teenstanders. Daar kan nie ‘n derde kant wees in hierdie oorlog nie. Daar is net goed en sleg, God en die duiwel, reg en verkeerd, geregverdigheid en sonde. Dit is baie belangrik dat ons seker maak dat ons aan die regte kant is want net een kant gaan wen en dit is God se kant.

Ook die woord “vir” (ons) het betekenis. Dit kom voor asof die woorde wil sê dat daar meer is as net die feit dat God aan ons kant is, dat Hy inderdaad dit wil hê wat vir ons goed is. Hy wil nie net hê dat ons nie verslaan moet word nie. Hy wil veel meer vir ons hê. Dit is die tema van die brief aan die Romeine. God wil ons vrymaak, heilig en verheerlik. Hy is in elke opsig vir ons. Dit voel somtyds asof God neutraal is en net ons stryd aanskou. Nee, Hy is vir ons en Hy wil net die beste vir ons hê.

Die vraag is derhalwe: “As God vír ons is, wie kan teen ons wees?” Diegene wat in die stryd teen ons opgestel is – satan, demone, ongelowiges en selfs Christene, wat nie sal kan staande bly as God vir ons is nie. Die vraag is retories en die antwoord is voor die hand liggend – niemand kan teen ons wees nie. In die konteks van die vers word baie dinge gelys wat insluit die dood, engele, duiwels en dinge wat reeds bestaan of wat in die toekoms mag kom – niks kan teen ons staande bly nie (Rom 8:38). Paulus sê dat geen ding wat geskape is ons van die liefde van God kan skei nie (Rom 8:39). Ons kan derhalwe met veiligheid aanvaar dat niks wat geskape is teen ons kan staande bly as God vir ons is nie. Wat is geskape? Alles behalwe God! God sê dus dat daar absoluut niks in die heelal is wat teen ons kan staan vir so lank as wat Hy vir ons is nie. Ons vrees dikwels die dinge wat mense aan ons kan doen, of dit wat die toekoms mag inhou, maar die wonderlike waarheid is dat daar absoluut niks is wat teen ons kan staande bly nie. Wow, dit beteken dat ons onoorwinlik is! En dit is die wonderlike waarheid vir solank as wat ons met God is en Hy met ons.

‘n Mens voel baie keer blootgestel en alleen omdat dit voorkom asof niemand saam met ons staan nie en dat almal teen ons is. Paulus het hierdie gevoel gehad toe hy geskryf het dat niemand by hom in die hof gestaan het en dat almal hom verlaat het. Kan jy jou indink hoe dit moet voel om alleen teen die hele Romeinse Ryk te staan, terwyl almal jou versaak het. Tog gaan hy voort: “Maar die Here het my bygestaan” (2 Tim 4:16-17). Let op die verskil! Van ‘n armsalige Paulus wat daar alleen en verlate staan tot ‘n Paulus met die Almagtige God aan sy sy. Skielik het die grootsheid van ‘n oorweldigende Romeinse hof tot niks verdof.

Ek dink nie dat Paulus die Here werklik in die hofsaal “gesien” het nie, maar hy was absoluut oortuig dat die Here inderdaad hom “bygestaan” het. Somtyds wil ons die een of ander fisiese bekendmaking van die Here se teenwoordigheid sien, maar ons het net nodig om ons geestelike oë oop te maak om te besef dat Hy inderdaad met ons is.

So het Elisa se dienskneg dit beleef: “Die môre vroeg het die slaaf van die man van God opgestaan, en toe hy uitgaan, sien hy 'n leër rondom die stad, met perde en strydwaens. “Ag, Meneer!” sê die slaaf vir Elisa, “wat gaan ons nou maak?” Hy het geantwoord: “Moenie bang wees nie, dié wat by ons is, is meer as wat hulle is.” Elisa het gebid: “Here, maak tog sy oë oop dat hy kan sien.” Die Here het die oë van die slaaf oopgemaak, en hy het gesien: die berge rondom Elisa was vol perde en strydwaens van vuur” (2 Kon 6:15-17).

O Here God, open ons oë sodat ons kan sien dat alhoewel ons nie omring is deur perde en strydwaens nie, U Almagtige Teenwoordigheid ons omvou en dat onder U magtige vlerke ons veilig is en niks ons kan skaad nie. Help ons om die waarheid te verstaan dat indien U vir ons is, niemand teen ons kan wees nie – Amen.

Die Here is by my, ek ken geen vrees nie; wat kan 'n mens aan my doen?” (Ps 118:6)